Die term “unschooling” word deur baie mense beskou as ‘n “laat God’s water oor God’s akker loop” tipe onderwys, waarby geen ouerlike insette, minstens op akademiese gebied, betrokke is nie. Alhoewel daar sekerlik mense is wat die idee toepas, is diet nie die oorspronklike bedoeling van die denkwyse nie. Eintlik beteken dit baie nou gesien, slegs geen “skool” en nie geen opvoeding nie. Die idee word beter uitgedruk deur die term selfskool, wat eintlik net fokus daarop om die kind die vryheid te gee om sy eie skedule en belangstellings te volg. Ouers gee steeds riglyne, voorstelle en help om hulpbronne te verkry. Ouers behoort selfs sekere minimum vereistes te stel, hoewel rigiede reels tot ‘n minimum beperk word.

Ouers is steeds te alle tye verantwoordelik daarvoor dat ‘n kind wel ‘n goeie opvoeding kry, wat hom voorberei om ‘n toekomstige gesin te onderhou en ‘n bydrae in die gemeenskap te lewer. Met selfskool word die ouer se verantwoordelikheid nie op die kind afgeskuif nie, maar het hy baie vryheid en tyd om kreatief en oorspronklik te wees. In die meeste tuisonderwys huishoudings word selfskool noodgedwonge tot ‘n meerdere of mindere mate toegepas. Noodgedwonge, omdat ouers besig is met werk en daar gewoonlik meer as een kind in ‘n gesin is, wat aandag verg.

‘n Soektog op die internet sal baie artikels en webwerwe oplewer wat die denkwyse en metodiek van selfskool (soekterm: “unschooling”) in meer besonderhede uitspel.