Boodskap van die Rektor.
Ons slagspreuk, “Ou spore – nuwe weë”, verwoord ons roeping om ’n klassiek-Christelike tradisie binne ons eie, sowel as ander gemeenskappe te bevorder. Dit het die Senaat aangespoor tot ’n bepaalde identiteit vir ons Akademie, waar ons strewe om nuut te dink oor die aanbied van huidige geakkrediteerde studierigtings. Die APA het van die begin af programme aangebied wat hul vertrekpunt in die ideaal van Christelike tersiêre onderwys het. Hierdie ideaal word tans aan die hand van klassiek-Christelike vertrekpunte stewig uitgebou. Die doel is om studente deur middel van uitnemende onderrig, volhoubaar toe te rus vir hulle roeping in die samelewing, selfs vir dit wat nog onbekend is. Hoe doen ons dit? Kom besoek ons om meer hieroor uit te vind! Die APA bedien studente met ’n leeromgewing waar die student binne ’n Christelike etos in Afrikaans as moedertaal kan studeer, maar uiteindelik gaan dit oor baie meer – hulle word voorgestel aan ’n leefwyse en ’n wêreld van skoonheid, harmonie en wysheid. Die dosente verbonde aan die APA streef na uitnemende vakkundigheid, wat die onderskeie dissiplines begrond in ’n baie spesifieke Christelike raamwerk. Hierin word hulle gemotiveer deur ’n liefde en passie vir hul roeping. Op hierdie weg is dit ons ideaal om ’n wêreldbeskoulike enjin vir ons samelewing te wees. Terselfdertyd wil ons deur persoonlike aandag, studente kweek wat met wysheid wandel waar hulle ook al mag gaan.
Groete.
Prof. dr. JAE Adendorff
Graadprogramme:
BA, BTh, NGOS (Nagraadse Gevorderde Onderwyssertifikaat) kan deur kontakstudie of afstandstudie gevolg word.
SCHOLA SCRIPTA (Latyn vir jonk en oud)
Academia Latina (as sentrum by die APA)
Die ACADEMIA LATINA van die AP Akademie bied aan skoliere (vanaf Graad 6), studente en volwassenes ‘n unieke geleentheid om met Latyn en die rykdom van die Klassieke kennis te maak. Dit bied ‘n inleiding tot die Latynse taalleer, klassieke mitologie, klassieke kultuur en klassieke geskiedenis.
SCHOLA SCRIPTA is ‘n korrespondensiekursus wat uit 4 kursusse (modules) bestaan. By die suksesvolle voltooiing van elke kursus word ‘n sertifikaat van die AP Akademie aan u uitgereik. U kan teen u eie tempo werk. Twee moontlike eksamendatums (in Junie en November) stel u in staat om ‘n kursus per jaar of per semester te voltooi. Na voltooiing van SSIV bied Noordwes-Universiteit ‘n opvolg korrespondensiekursus aan in Oxford Latyn (OLC I).
Nuutste Opmerkings