In die tuisonderwys milieu is klassieke onderwys ‘n holistiese benadering tot opvoeding wat nie ‘n groot onderskeid tref tussen verskillende vakdissiplines nie, maar waar Geskiedenis en Aardrykskunde geleer word in die proses van die bestudering van Letterkunde en Bybelonderrig, wat ook weer oorvleuel.  Wiskunde en die Natuurwetenskappe word ook aangebied as geheel en dek selfs dele van Aardrykskunde waar tabelle en grafieke ontleed of gebruik word en die heelal, planeet aarde en klimaat bestudeer word.  Taalleer (grammatika, spelling, woordeskat, sinsbou, ens. in enige taal) word  deur die bestudering van Latyn begrond.  Dit beteken nie dat aparte vakkurrikulum eenkant geskuif word nie, net dat die hooffokus gekies word volgens die belangstellings en persoonlikheid van die kind en omstandighede/situasie aan huis en gemeenskap.

Dit weerspieel die werklike lewe en volg die “Trivium”-model wat vir honderde jare in die opvoeding van die jeug toegepas is, deur die benutting van literatuur wat deel uitmaak van die klassieke westerse kanon (Great Conversation). Ten spyte daarvan dat die Romeine die Griekse model aangepas het om hulle beskouing te pas en Middeleeuse Europa dit weer verder aangepas het en die 16de tot 18de eeuse Weste (Europa en Amerika) dit bygewerk het tot nut vir hulle omgewing, was die basiese model deurentyd min of meer dieselfde.  In die laat 19de eeu en deur die 20ste eeu tot vandag, het die inmenging van die staat gelei tot ‘n geleidelike, akkumulerende afwatering van opvoeding tot papegaaileer en die beantwoording van eksamenvraestelle volgens voorafbepaalde merkskemas wat geen ruimte laat vir interpretasie, begrip en insig nie, om nie te praat van persoonlike opinie nie.

Vir verdere uiteensetting, besoek gerus die volgende webwerwe.

www.romanroadsmedia.com

www.compassclassroom

www.circeinstitute.org   (sluit ook in riglyne vir die organisasie en uitgangspunte vir tradisionele klassieke skole)

www.triviumpursuit.com