Moedertaalonderrig is geweldig belangrik en dit is ons oortuiging, bewys deur navorsing, dat ‘n kind wat nie in sy moedertaal onderrig ontvang nie, ‘n hindernis of stremming ervaar, wat nie gunstig is vir optimale studie nie. Die mate waartoe dit ‘n negatiewe uitwerking het, verskil natuurlik van kind tot kind, afhangend van sy persoonlike taalaanleg en ontwikkelingsvlak.
Ongelukkig is die meeste Afrikaanse onderwyshulpbronne merendeels gerig op ‘n skoolomgewing of aanvullend tot klaskameronderwys. Dit is ook merendeels oppervlakkig of afgewater en sekulêr – nie geskik vir in diepte studie of uitstaande Christelike onderwys nie. Stadig maar seker word daar egter wel hulpbronne beskikbaar gestel deur ouers of onderwysers wat die skoolopset agtergelaat het en begrip het vir die tuisonderwys omgewing.
Die manier om moedertaalonderrig so veel as moontlik te benut, is om van kinders te vereis om alle werksopdragte en selfgemerkte toetse in Afrikaans te doen. Met ander woorde, enige vrae wat beantwoord word (mondelings of skriftelik), enige terugvertellings, bespreking, opsommings of opstelle moet in Afrikaans gedoen word. Daar is genoeg tyd om later, teen die tyd wat kwalifikasies belangrik raak (omtrent ouderdom 16/17) om die Engelse weergee van materiaal op te knap.
Die feit dat ‘n kind so baie in Engels lees en hoor dwarsdeur sy jeugjare; nie net in akademiese milieu nie, maar ook op die internet, films of in openbare plekke; is genoeg voorbereiding om suksesvol in Engels verder te gaan. Latyn is ‘n uitstekende akademiese basis op vele vlakke, ook as voorbereiding vir enige taalonderrig, maar veral Engelse grammatika en woordeskat. Kopieerwerk wat deurlopend oor die jare in beide Afrikaans en Engels gedoen word, is ook ‘n manier om seker te maak dat ‘n kind se taalbegrip ontwikkel. Daarmee saam is oudioboeke en die voorlees van boeke, baie belangrik om seker te maak dat die kind meer as net ‘n beperkte (huishoudelike) woordeskat en taalstruktuur assimileer.
Ons is nie bewus van klassieke kurrikulum in Afrikaans nie, hoewel verskeie klassieke werke wel in Afrikaans vertaal is en beslis gebruik kan word. Dit wil sê, indien jy dit tweedehands in die hande kan kry, want die meeste is wel uit druk.
Alhoewel die meeste van die kernkurrikulum aanbevelings op hierdie webwerf wys na Amerikaanse, dus Engelse, kurrikulum, wil ons jou aanmoedig om die Afrikaanse ontwikkelaars te ondersteun, al is dit net aanvullend tot jou gekose produk. Kyk gerus op die Wes-Kaapse tuisonderwysvereniging se webwerf of daar materiaal is wat jy nuttig kan inspan.
Nuutste Opmerkings