Daar is letterlik honderde ondersteuningsgroepe waarby ‘n mens kan aansluit. Dit is uiters belangrik om in te skakel by ‘n groep waar jy iemand sal kry wat kan raad gee wanneer jy oorweldig voel deur al die verskillende opsies, die wye veld van inligting of enige probleme wat jy ondervind, asook vir sosiale interaksie wanneer nodig.
Plaaslike groepe kan gereelde sosiale byeenkomste, boekklubs, klasse, kompetisies en inligtingsessies reël of aanbied. Die meeste het ‘n spasie op sosiale media, soos facebook of whatsapp waar jy kan kontak maak. Sommige verkies om nuwe lede eers persoonlik te ontmoet deur mondelinge aanbeveling van ander tuisskolers. As een groep nie voldoen aan jou gesin se behoeftes nie, soek ‘n ander een of stig ‘n nuwe groep en deel dit op sosiale media – veral spesifieke belangstellingsgroepe is baie gewild. Sommige tuisskolers neem deel aan plaaslike skoolgeleenthede.
Internetgroepe is wonderlik vir die ongelooflikste raad en inligting wat gedeel word deur gesoute tuisskolers. Ons onthou almal die onsekerheid aan die begin, die desperaatheid as jy jou in ‘n spreekwoordelike muur vasloop en sommige die eensaamheid wanneer selfs familielede jou besluit bevraagteken of veroordeel. Die ergste is wanneer jy net effens gefrustreerd of wankelrig voel en almal se oplossing is: “Stuur hulle terug skool toe.” Daar is ander antwoorde vir enige struikelblok en dit sal jy vinnig op sosiale media kry. As jy dit nie kry op ‘n Suid-Afrikaanse groep nie, is daar wel iemand in die wye wereld wat al dieselfde ondervinding gehad het. Al is dit net die wete dat iemand anders ook antwoorde op dieselfde probleem soek, kan dit groot verligting bring en jou geloof in jouself en jou kinders versterk.
‘n Goeie begin is die volgende groepe (of soek vir sleutelwoorde: tuisonderwys, tuisskool, tuisonderrig, tuisskolers, homeschool, home education, home ed): Pestalozzi Trust, BELA Bill, Tuisskool Forum, TUISONDERWYS, Tuisskool Gemeenskap van Suid-Afrika, Pretoria Homeschool / Tuisskool, Tuisonderrig vir Afrikaanse mammas. Jy kan ook vra vir inligting oor spesifieke groepe op enige ander groep, veral plaaslike groepe.
Laastens, onthou te alle tye: as die Here jou geroep het om jou kinders tuis te onderrig, sal Hy ook die oplossings gee vir watter probleem ookal opduik. Jak. 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
Nuutste Opmerkings