Die meeste Afrikaanse handboeke is gerig op skoolonderwys en leun te swaar op beskikbaarheid van ‘n onderwyser. In ‘n skoolopset, waar ‘n onderwyser een of twee vakke jaar na jaar aanbied aan dieselfde ouderdom leerders, kan hy die materiaal tot so ‘n mate bemeester dat dit maklik aan ‘n groot aantal leerders gebied word. Waar ons as ouers egter die taak moet uitvoer, vind ons gou dat die volume van verskillende leerareas plus meervoudige leerders op verskillende vlak van begrip en ontwikkeling, dit onmoontlik maak om gereeld genoeg by alles of almal uit te kom. Dit nie eers in ag geneem dat ouers ook ander werk het om te doen nie.

Daarom lei baie van die aanbevelings en skakels op hierdie webwerf na Amerikaanse tuisonderwys-materiaal, wat ons ‘n paar dekades vooruit is in terme van die filosofiese agtergrond sowel as praktiese nut. Die hoofkenmerk van die verskillende hulpmiddels is meestal dat die Bybel as wegspringplek en voortdurende maatstaf vir kwaliteit, waarheid en toepassing gebruik word – gewoonlik nog ‘n tekortkoming in Afrikaanse materiaal.

Hierdie prentjie is besig om te verbeter, aangesien daar reeds ‘n groep ouers is, wie se kinders hulle eie paadjies begin loop – sommige studeer aan tersiêre inrigtings, ander werk as entrepeneurs of werknemers. Van hierdie ouers het nou die tyd en entoesiasme om met ywer en die persoonlike ervaring van hoe ‘n tuisonderwysomgewing daar uitsien, sowel as met die oog op hulle kleinkinders se opvoeding, te begin om paslike tuisonderwysmateriaal saam te stel in ‘n wye verskeidenheid van vakgebiede. Sommige vertaal Amerikaanse kurrikulums in Afrikaans en ander, wat genoeg kennis en belangstelling het, skryf oorspronklike handleidings.

Dan is daar natuurlik ook ouers wat deur webjoernale (blogs) en op facebook groepe nuwe ouers bemoedig, ondersteun en raad gee. Dit is juis hier waar mense nie kan glo wat hulle hoor nie. “Elke kind werk sy eie skedule uit en leer wat en wanneer hy wil, selfs sonder ‘n voorganger (onderwyser)”? “Moenie wegspring met ‘n kurrikulum nie, want selfs ‘n uitstekende, wydgebruikte kurrikulum werk nie noodwendig vir jou kind nie”? “Eksamens is beskikbaar, maar eintlik onnodig”? “Sosiale interaksie met mense van dieselfde ouderdom is onnodig”? As hierdie alles waar is, hoe hou ek my kind besig vir 8 tot 12 ure, 7 dae per week?

Hierdie paradigmaskuif is vir die meeste ouers aanvanklik onmoontlik om te maak, moet dus nie sleg voel as jy verward en oorweldig is nie. Ons was almal op daardie plek. Die een gedagte wat jy voorop moet stel en waaraan jy moet vashou,  is dat jou kind nie sal “agter raak” as daar ‘n paar maande verbygaan waarin dit voel asof niks uitgerig is nie. Die eerste paar maande is ‘n tyd van oplees en eksperimentering en veral ontskoling – vir die ouers in die eerste plek, maar ook vir die kind wat vir langer as ‘n paar weke ‘n tradisionele skool bygewoon het.

Dit is ‘n saak van geloof en oortuiging, die praktiese sy werk elke gesin vir hulleself uit, onder leiding en advies van die wat reeds die pad gestap het, maar met aanpassings vir individuele verskille. Geen twee persone is presies dieselfde nie en “die gemiddelde kind” bestaan nie. Geen twee gesinne het presies dieselfde omstandighede of doelwitte of agtergrond nie.

Dit is juis wat so wonderlik is van tuisonderwys – die aanpasbaarheid van skedule, leermateriaal en doelwitte, nie net van een gesin tot ‘n ander nie, maar ook van een kind na ‘n volgende of soos omstandighede verander. Ten spyte van skommelinge, kry elke kind ‘n pasgemaakte opvoeding. Ouers moet net nie rigied probeer om ‘n skoolopset te kopieer nie – of dit in terme van skedule, leermateriaal of evaluering is.

Wanneer iemand praat van mislukking in tuisonderwys, is dit gewoonlik as gevolg van ouerlike onaanpasbaarheid. “Mislukking” is in elk geval ‘n relatiewe begrip en word gewoonlik gemeet/gedefinieer ten opsigte van skooluitkomste en nie lewenssukses nie. Ons, as ouers, moet leer om suksesvolle opvoeding te meet aan die Bybelse einddoel, naamlik ‘n volwasse persoon se geskiktheid om te voldoen aan sy roeping, die skeppingsmandaat (rentmeesterskap) en die sendingopdrag, in plaas van feitekennis. ‘n Seun moet op die regte tyd goed vir ‘n gesin kan voorsien en ‘n dogter moet uiteindelik ‘n goeie hulp vir haar man wees. Dit beteken geensins dat ‘n dogter nie akademiese studie of ‘n beroep mag volg nie – sodoende kan sy steeds haar man bystaan en dit is ‘n saak van persoonlike oortuiging en onderlinge ooreenstemming, onder leiding van die Heilige Gees.