Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) is ʼn Christelike private hoër onderwysinstelling wat roepinggedrewe studente oplei om die onderwysprofessie met kundigheid te betree. Die onderwyslandskap in Suid-Afrika is dinamies met heelwat uitdagings en ʼn groot tekort aan onderwysers. Aros wil graag studente toerus om ʼn verskil in die onderwyslandskap te maak.
Aros se kampus is in Waverley, Pretoria geleë. Daar is ongeveer 1100 studente wat oor naweke klas draf en ʼn unieke studentelewe geniet. Hier gaan jy vriende maak, kollegas ontmoet en hard werk!
Aros maak van ‘n a-model gebruik. Kontaksessies word aangebied op Vrydae of Saterdae, afhangende van die student se voorkeur, en deur die week vind skakeling deur middel van ons eie e-leerplatform, e-Klas, plaas. Die afgelope jare het gewys dat Aros-studente gedurende hulle studies ontwikkel tot selfstandige studente wat puik in die onderwysomgewing funksioneer.
Met die akkreditasie en registrasie van Aros op 23 Januarie 2012 as private instansie wat ‘n BEd in Grondslagfaseonderwysaanbied, het ons ‘n nuwe, dinamiese era betree. Die akkreditasie van die Diploma in Graad R-onderwys (2015) en BEd Intermediêrefaseprogram (2016) het vinnig gevolg en word daar verder ook and ander kwalifikasies gewerk.
Beide die BEd Grondslagfaseprogram, BEd Intermediêrefaseprogram en die Diploma in Graad R-onderwys is geknip op die patroon van die nuutste besinning en nadenke oor onderwysersopleiding in Suid-Afrika. In hierdie opsig beskik Aros dus oor ‘n nuwe en eietydse program.
Die unieke van Aros se program lê in sy toewyding aan:
- Christelike Wetenskapbeoefening – onderwysersopleiding word gesetel in ‘n Bybelse opdrag en singewing. Onderwys is gawe en opgawe wat uit die hand van Christus kom en hierdie uitgangspunt vorm die ruggraat van ‘n waardegedrewe opleidingsprogram.
- Beroepsgerigte opleiding – alles wat onderrig word, moet deurwerk na die onderwyspraktyk in die klassituasie. Aros-studente skakel minstens een dag per week by skole in as deel van die amptelike opleidingsprogram. Op hierdie wyse word verseker dat die opleiding werklik gerig is op die sinvolle onderrig van kinders in die klassituasie. Daar word ook van student verwag om vanaf die derde kwartaal in die eerste jaar ‘n meer gestrukteerde, praktiese proeftydperk in ‘n spesifieke Grondslagfaseklas te doen.
- Innovasie en kwaliteit – as private tersiêre onderwysinstelling is dit Aros se voortdurende strewe om innoverende onderwyseropleiding aan te bied en om hoë akademiese standaarde te handhaaf en uit te bou.
- Roepinggedrewe studente – By Aros word studente begelei om die onderwysberoep ten eerste as ‘n roeping van die Here te ervaar en aanvaar. Wanneer onderwys as ‘n roeping gesien word, gee dit sin en betekenis aan die onderwysberoep. Suid-Afrika het goed opgeleide en goed gemotiveerde Christen-onderwysers nodig. So kan geloof, hoop en liefde aan die volgende geslag oorgedra word tot voordeel en voorspoed van die land. Aros BEd-graduandi, beskik oor beroepsgerigte opleiding en bring sterk Christelike waardes na die klaskamer. Hulle is hoog in aanvraag in privaat- en openbare skole asook in ‘n verskeidenheid van ander opvoedkundige instellings.
Nuutste Opmerkings