Die verskeidenheid Wiskunde kurrikulums te kus en te keur, het tot gevolg dat elke kind-ouer-gesin kombinasie iets sal vind wat net reg is vir hulle. Dis belangrik om te onthou dat ‘n kurrikulum moet pas by die kind se persoonlikheid en leerstyl, maar tog nie die ouers se verwagtinge en die gesinsdinamika in die wiele ry nie. As albei ouers werk, selfs van die huis af, is videolesse dalk die aangewese opsie. Dit vereis wel ‘n rekenaar met internet of ‘n DVD speler, wat dalk nie bekombaar is vir die bepaalde gesin nie. As daar woelige kleuters in die huis is, is dit dalk nodig dat hulle weg van die ouer kinders besig gehou word, sodat laasgenoemde in rustigheid op hulle eie kan aangaan, sonder konstante ouerlike betrokkenheid. Dit beteken weliswaar nie dat ouers glad nie leiding gee nie, maar net dat hulle insette nie voltyds nodig is nie.
Die volgende is gewilde Wiskunde kurrikulums vir ‘n tuisonderwys omgewing:
Math-u-See
Life of Fred
Professor B
PracMath
Ongelukkig is daar sover ek weet net een Afrikaanse kurrikulum, naamlik PracMath, wat ‘n omvattende, sistematiese program is en geskik is vir tuisonderwys. Daar is wel die Wolkskool van Solidariteit en ander soortgelyke programme, maar dit is net aanvullend tot ‘n onderwyser gebaseerde stelsel. Soos reeds elders gemeld, is skoolhandboeke nie geskik nie, aangesien daar veels te min verduideliking van konsepte en werksmetodes is. Dit steun tot ‘n groot mate op ‘n onderwyser wat lesse aanbied. Die meeste ouers het nie die tyd om vir elke vak lesse uit te werk of selfs net uitgewerkte lesse aan te bied nie.
Nuutste Opmerkings